Alles behalwe die geheim van my whiskies
“Jy kan hierdie boek soos goeie sjokolade benader. As jy genoeg wilskrag het, kan jy die 52 rubrieke – een vir elke week van die jaar – so ’n lekseltjie op ’n slag lees. Maar waarskynlik gaan dit jou so behaag dat jy alles op een slag sal verorber. Toemaar wat, anders as sjokolade, maak dit nie vet en veroorsaak geen skuldgevoelens nie.” – Marita van der Vyver
’n Keur uit Rachelle Greeff se rubrieke wat oor die jare in Die Burger en Rapport verskyn het. Rachelle skryf oor boeke, motorfietsry, kosmaak, kinders, troeteldiere en vleisbraai op nege rooi bakstene. Dikwels wil jy hardop lag, dikwels lees jy iets twee keer omdat dit so mooi en raak gestel is, dikwels kyk jy met ander oë na die wêreld om jou.
Rachelle Greeff het die CNA-debuutprys ontvang vir haar eerste kortverhaalbundel, Die rugkant van die bruid (1990). Sy het ook die SANLAM Literêre Prys, sowel as die RAU-prys vir Kreatiewe Skryfwerk, ontvang vir haar kortverhaalbundel, Merke van die nag (2001). Een van haar kortverhale, Tell him it is never too late, is genomineer vir die Caine-prys vir Afrika-literatuur in Mei 2003 toe sy die kortlys saam met vier ander Afrika-skrywers gehaal het.
Sy het ‘n graad in die Drama en ‘n honneursgraad in Joernalistiek (cum laude) verwerf aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy het ook ‘n meestersgraad in Kreatiewe Skryfwerk (cum laude) voltooi aan die Universiteit van Kaapstad. Sy het by verskeie publikasies as verslaggewer en joernalis gewerk voor sy fiksie begin skryf het. Die meeste van haar werk word in Afrikaans geskryf. Sy bly in Kaapstad.
Rachelle Greef is ’n bekende joernalis en kortverhaalskrywer. Sy is boekeredakteur by Rapport en dra by tot Van alle kante in Die Burger.
*
NB: Rachelle Greeff in gesprek met Marita van der Vyver by die Woordfees! -







