Books LIVE

February

23

Close it

Boeke-Insig

@ Books LIVE

Duitsers is ernstig oor crime, en oor Deon

InfantaDevil's PeakDer Atem des JagersRiana Barnard gesels oor haar en Deon Meyer se ontmoeting by die Frankfurt Boekeskou.

Duisende skougangers dreun voort op groot vervoerbande tussen die sale. “Heito,” hoor ek saam met ’n sagte plukkie aan my mou. Toe ek terugkyk, sien ek die breë gestalte van Deon Meyer wegraak tussen die menigte. Ek kom luister vanmiddag na jou, beduie ek terwyl sy bekende glimlag al kleiner word.

In Halle 4 pryk sy foto opsigtelik teen die blou muur van Aufbau, sy Duitse uitgewer. Deon sluit sy tiendaagse triomftog in Duitsland af met ’n optrede by die Frankfurt Buchmesse. Rustig en ontspanne gesels hy met tientalle aanhangers wat maar net nie genoeg kan kry nie.

Ek ril van lekkerte toe hy vertel van sy sukses in Berlyn en München (waar ’n waglys orde moes skep toe gretige lesers aan die stoei geraak het oor ’n sitplek by sy voorlesing). Ook die platteland het hy stormenderhand verower. “Dis uitmergelend,” sê Deon. “Elke aand ’n ander dorp of stad, ’n ander hotel. Maar dis belonend.”

Dit is duidelik dat hy reeds ’n lojale groep lesers het, maar met elke nuwe titel groei die belangstelling van die publiek. “Hulle is ernstig oor crime,” lag hy. “Die eerste aand wou ek die ys breek met ’n bietjie humor, maar die gehoor het gou laat blyk dat hulle dié genre nie ligtelik beskou nie. Daarom bêre ek my grappies maar vir ’n ander geleentheid.”

Hoe ernstig die Duitse leserspubliek oor Deon Meyer is, wys die topverkoperlys. Der Atem des Jägers (Infanta / Devil’s Peak) troon heel bo-aan die topverkoperlys vir spanningsromans in Duitsland, terwyl dit ook ’n vyfde plek beklee op die algemene toptien-lys wat alle genres insluit.

Skrywer: Riana Barnard

 

Please register or log in to comment