Books LIVE

February

23

Close it

Boeke-Insig

@ Books LIVE

‘n Onderhoud met Bitterkomix se boere-punks

Bitterkomix 15 ArtworkDie pioniers van uitdagende plaaslike stripkuns, Anton Kannemeyer en Conrad Botes, betree ‘n nuwe fase met hul Bitterkomix-reeks. Danie Marais het hulle uitgevra oor hul planne en die faktore wat hul sukses bepaal. Ons plaas graag ‘n uittreksel van dié onderhoud op ons Boeke-Insig blog. Vir die volledige onderhoud besoek gerus www.boekeinsig.co.za.

Bitterkomix Handbook Bitterkomix 15 het ’n nuwe uitgewer en ’n nuwe katalogus-formaat. Beteken dit ook ’n radikale verandering ten opsigte van die inhoud – ’n nuwe visie en missie?

AK: Die uitgewer is Jacana wat ook die Big Bad Bitterkomix Handbook uitgegee het. Hulle is werklik nogals agtermekaar, ek dink hoofsaaklik omdat hulle van Joburg af kom en nie die Kaap nie. Die nuwe formaat behels ’n dikker boek (96 bladsye in plaas van 60), ’n rugkant (spine), ’n kleurafdeling van 32 bladsye, beter gehalte papier – kortom, hoër produksiewaardes.

Die inhoud is myns insiens meer divers as vantevore: Ek sluit byvoorbeeld werk in wat die gaping tussen my stripwerk en my sogenaamde skonekunste-werk oorbrug. Die reeks “Alphabet of Democracy” sal beslis nie deur puriste as ’n gewone strip beskou word nie, maar dis presies hoekom ek dink dis interessant.

Ons het ook weer ’n “Drawing Book”-deel in BK15 (ook hierdie keer tekeninge van Noyau van Switserland wat hy met ’n besoek aan Suid-Afrika gemaak het) – dis nie tradisionele stripkuns nie, maar is tog narratief en konsepsueel van aard. Ander mense (behalwe ek en Conrad) wat bydra tot die nuwe Bitterkomix is Joe Daly (The Red Monkey & Scrublands), JC Menu (van L’Association-uitgewers in Parys), Henning Wagenbreth en Sophia Martinek (van Duitsland – ek het laas jaar met haar en Henning saamgewerk toe ek in Berlyn by die Hochschule der Künste vir drie maande klasgegee het) en Ana Albero van Spanje (ook ’n student in Berlyn).

Wat visie betref, dink ek dat BK meeding met ander soortgelyke internasionale publikasies en ’n baie hoë standaard probeer handhaaf. Terselfdertyd is die materiaal relevant tot Suid-Afrika: Wagenbreth se werk is in Joburg gemaak terwyl hy ’n paar jaar gelede hier gekuier het; JC Menu se werk het te make met sy ontdekking van seks as kind en Martinek se werk onthul die skandes van dorp-gemeenskappe in Duitsland.

Julle geniet albei kommersiële sukses as solo-kunstenaars en kan beslis meer verdien deur julle op die skone kunste toe te spits. Hoekom gaan julle voort met comics?

AK: Ek dink in comic-taal. Kan nie daarvan wegkom nie. En ek is mal daaroor om tussen dissiplines geposisioneer te wees: Die fine artists sê nee, jy’s nie ’n fine artist nie en die comic artists sê nee, jy’s nie ’n comic artist nie. Ek is ook mal oor die boekbedryf en om met publikasies te werk.

CB: As dit van geld afgehang het, sou ek al lankal opgehou comics teken het. Ek teken comics, want ek hou baie daarvan. My comics het ’n redelike groot invloed op my skilderwerk, die twee dissiplines is vir my taamlik afhanklik van mekaar.

Het sukses en vaderskap julle rustiger gemaak, of is julle nog steeds bitter? En indien wel, hoekom? Is dit nog dieselfde dinge wat krap?

CB: Glad nie rustiger nie, wel wanhopiger by die dag. Ek dink Anton se comics is baie meer topical as myne. Hy vat altyd iets aan. Maar daar’s natuurlik nog baie goed wat my pla. Dit irriteer my rêrig as mense so kla oor misdaad soos André P. Brink dit verlede jaar gedoen het.

Sodra iemand nou self ’n slagoffer word van misdaad val alles skielik uitmekaar en dan word daar vreeslik gekla. Maar dit is vir my so kleinlik dat dit nie eers ’n tema in ’n comic waardig is nie. Ek kan dit nie hanteer as mense die misdaadprobleem so verstaan dat dit net wit mense is wat slagoffers is van swart geweld nie. Suid-Afrikaners, wit en swart, is slagoffers van geweld. Dis eenvoudig ’n gevaarlike plek.

In my eie comics probeer ek dinge op ’n onderbewuste vlak benader. Ek hou my steeds met sekere temas besig, maar ek wil dinge nie meer so direk doen nie. Mense moet self besluit wat alles beteken.

AK: Ag jirre, ek moet seker nou hierdie vraag beantwoord: Maybe is ek rustiger, wie weet? Ek verstaan anyway nie heeltemal wat my persoonlike lewe met my professionele lewe te make het nie. Is my werk uitsluitlik outobiografies van aard? En nee, ek’s nie meer bitter nie, maar ek is nog steeds die moer in.

 

Please register or log in to comment