Sign up

Login to BooksLIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Books LIVE

Boeke-Insig

@ Books LIVE

Danie Marais vertel meer oor “Dédicaces”

Besoeker Met DedicaceDie wêreld van die versamelaar is altyd ’n interessante subkultuur. In die meeste markte word die waarde van ’n artikel gemeet aan die monetêre waarde, die prys, daarvan. Maar vir die egte versamelaar is die geldwaarde van die kosbare seël, plaat, boek of modeltreintjie wat hy besit, net ’n stukkie toegevoegde waarde. ’n Ware versamelaar wil veel eerder koop as verkoop – sy versamelstukke is die boublokkies van ’n privaat koninkryk waar hy as alleenheerser die idiosinkratiese orde van dinge bepaal.

Ek praat met ’n bietjie gesag oor die wêreld van die versamelaar omdat ek self die verblindende, irrasionele opwinding ken wat ’n skaars uitgawe van ’n boek of ’n CD waarna ek lank op soek was, verskaf. Maar ek het beslis nie die skoot so hoog deur soos sommige van my vriende en kennisse nie. Ek het ’n ou in Duitsland geken wat ’n hele ekstra woonstel gehuur het, net om sy modeltreintjies – almal onaangeraak in hul oorspronklike verpakking – te huisves.

In die comic-subkultuur, wat ek sedert my kinderdae gereeld besoek, is versamelaars volop. En sommige van hierdie versamelaars het wel al ryk geword uit hul comics. ’n Eerste uitgawe van Batman #1 uit 1940 is byvoorbeeld al vir $280 000 verkoop. (Gaan loer gerus by www.comiclink.com om te sien watter astronomiese bedrae al vir ander ou uitgawes van supercomics behaal is.) En vanjaar is ’n nuwe rekord vir oorspronlike stripkuns opgestel toe Hergé se 1932 olieverf-illustrasie vir die omslag van Tintin in America by ’n veiling in Parys vir ’n verstommende €764 200 verkoop is.

Op druk besoekte comic-feeste wêreldwyd drom entoesiaste en versamelaars van die stripkuns saam – nie net om comic-boeke te koop nie, maar ook plastiekfiguurtjies van hul gunsteling-karakters en om hul boeke te laat teken deur die outeurs. Aangesien die skeppers van stripverhale meesal nie net skrywers is nie, maar behendige illustreerders ook, is dit tradisie dat die stripkunstenaar sy/haar handtekening en dedikasie ook met ’n tekening afrond.

Omdat ek met Karlien de Villiers, ’n stripkunstenaar getroud is, het ek intussen die voorreg gehad om die Fumetto-fees in Lusern, Switserland, asook die Cyclone BD-fees op die Franse eiland van Réunion te besoek en dit is aandoenlik om te sien in watter ellelange toue aanhangers bereid is om te staan om so ’n illustrasie – die Franse noem dit ’n “dédidace” – voorin hul boeke te kry. Ek en Karlien, wat al op baie meer comic-feeste as ek was, het ook nou al ons eie versameling van comic-boeke met illustrasies van die outeurs voorin. (Sien die voorbeelde hier onder.) En soms moes ons ook lank staan en wag.

Soos dit met versamelstukke gaan, het hierdie dédidaces, veral in die comic-mal Frankryk en België, ’n tweedehandse markwaarde verkry. Die waarde van so ’n tekening hang af van ’n aantal faktore: die gesogtheid van die boek waarin dit is, die persoon aan wie die tekening opgedra is (’n tekening wat aan ’n ander bekende stripkunstenaar opgedra is, is byvoorbeeld meer werd as ’n dedikasie aan ’n onbekende leser) asook die estetiese gehalte van die tekening. Met hierdie betekende boeke word daar fluks sake gedoen op die Franse eBay. Besoek gerus www.ebay.fr en tik in die Recherher (soek)-blokkie “dédicaces” en klik daarna op BD (die afkorting vir “bande dessinée” – Frans vir grafiese roman). Toe ek laas gaan kyk het, is 759 boeke met “dédicaces” te koop aangebied met die pryse wat wissel van ’n enkele euro (ongeveer R10) tot €835 euro (ongeveer R8 350) met die gemiddelde prys van €30 tot €60 – glad nie sleg vir ’n kunswerk wat die versamelaar verniet gekry het nie.

En juis daarom woed daar tans ’n hewige debat in die comic-wêreld oor hierdie praktyk. Sommige stripkunstenaars voel dis nie regverdig dat ander geld maak uit kunswerke wat hulle gratis uitdeel nie – en hierdie ure lange tekensessies op feeste is ongetwyfeld harde werk. Daar is ’n hele paar kunstenaars wat intussen weier om tekeninge vir aanhangers te maak. Die bekende Belgiese stripkunstenaar Pieter Schuiten is net bereid om sy handtekening te skenk. Franse kunstenaars soos Loisel, André Juillard en ander, maak ’n tekening op een bladsy van die boek en hul handtekening op ’n ander. So kan die dédicace nie uitgesny word en elders as ’n oorspronklike kunswerk verkoop word nie. Ander kunstenaars voel egter dat hierdie tekensessies ’n gulde geleentheid is om lesers te ontmoet, getroue aanhangers vir hul ondersteuning met ’n tekening te bedank en hul boeke te bemark.

Die toekoms van dié geliefde tradisie lyk om verstaanbare redes onseker, maar ek kan nie help om te hoop dat dit sal voortbestaan nie. Wanneer ek na die tekeninge in my en Karlien se boeke kyk, kom ’n kosbare hoop gedeelde reisherinneringe na my toe terug. Ons comic-boeke en hul dédicaces is beslis nie te koop nie.

* Dank aan die stripkenners Gert Meesters uit België en Ronan Lancelot uit Frankryk wat hul kennis oor die mark vir dédicaces per e-pos met my gedeel het.

 

Please register or log in to comment