Books LIVE

February

23

Close it

Boeke-Insig

@ Books LIVE

Ruda Landman gesels met André P. Brink

Die pasafgelope Insig-Boektafel met Ruda Landman en André P. Brink op die Stellenrust-wynlandgoed net buite Stellenbosch, wat deel van die Woordfees op Stellenbosch was, het al die bestandele vir ’n suksesvolle Boektafel bevat: Goeie wyn, heerlike kos, interessante geselskap, ’n gasvrou met ’n passie vir boeke en ’n topskrywer.

Uit die staanspoor het André P. Brink, die gehoor gevange gehad met stories oor Frankryk, die Sestigers en sy stormagtige verhouding met Ingrid Jonker. (Volgens Brink is dit net Audrey Blignault wat erger as Ingrid kon vloek.) Al dié staaltjies het natuurlik verband gehou met sy memoir, ’n Vurk in die pad, wat pas verskyn het.

Oor sy passie vir Frankryk, sê André, dat hy ’n verknogtheid gehad het aan alles wat Frans is, maar dat sy bewondering vir Napoleon en De Gaulle hom met verloop van tyd tot die besef gebring het dat sy helde se voete van klei was. André reken dat as sy geld nie opgeraak het nie, hy nooit na Suid-Afrika sou terugkeer nie.
Die een genade met sy aankoms terug in Suid-Afrika was om te ondek dat hier ’n klein groepie jong skrywers was wat sy opgewondheid oor die lewe en literatuur gedeel het. Oor sy tyd saam met dié Sestiger-skrywers het hy uit Wordsworth aangehaal: “Bliss was it in that dawn to be alive, but to be young was very heaven.”


Klik hier vir nog boektafel foto’s!

Hy het gesels oor die kuiers by Jan Rabie en Marjorie Wallace destyds in ’n huis in Groenpunt, wat hy die meeste geniet het. En die formidabele pot bobotie, wat mettertyd al kleiner geword het, omdat Marjorie nooit die pot gewas nie. Hy het ook onthou dat hy aanvanklik vergeet het om wyn saam te bring na die kuiers en hoe Jan Rabie hom vriendelik daarop gewys het dat jy altyd wyn saambring as jy vir mense kom kuier.
Die einde van die Boektafel het hopeloos te vinnig aangebreek, en ’n mens kon aanvoel dat daar nog baie was om oor te gesels. Lees ook ’n onderhoud met André P. Brink in die herfs-uitgawe van Boeke-Insig.